GESINNE SE DISSPELSKAP

Die skat van ‘n lewende offer

Yolandé Coetzer

7 Julie 2016

Hier is ‘n lekker skattejag-speletjie wat ons as gesin gedurende die vakansie per ongeluk geprakseer het. Dit pas so mooi in by die trappe ritme wat ons leer om van onsself te gee en om lewende offers te wees. So het die skattejag gewerk:

Elkeen van ons moes ‘n geskenkbewys-skat iewers wegsteek of begrawe. Die skat mag nie geld gekos het nie en moes iets wees wat ons van onsself moes gee – iets wat enige een van ons sou waardeer en wat ‘n ware offer vir mekaar sou wees.

Nadat ons skatte weggesteek is het ons leidrade geskryf en weggesteek. Elkeen se eerste leidraad is in ‘n hoed gegooi sodat ons ‘n leidraad tot ‘n skat kon kies. Daar spring ons toe weg om ons skatte te gaan soek. Dit was soveel pret en ‘n gelag om mekaar se leidrade uit te werk en te volg, maar die lekkerste was om jou skat te vind!

My offer, of skat was: “‘n Uur of meer van my tyd om enige iets van jou keuse saam met jou te doen.” Christiaan (wat gril vir ander mense se voete) was braaf genoeg om ‘n voetmassering te skenk (van ‘n half-uur nogal!). Carla het woorde van liefde geskenk. Sy sou haar tyd toewy om vir haar wenner te vertel wat hom/haar vir haar spesiaal en besonders maak. Gert en Christiaan moes saamgekonkel het, want albei hulle skatte was voetmasserings, of dit was ‘n geval van ‘great minds think alike’. Wie weet? Maar die uiteinde van ons spontane ritme-oefening was dit:

Om van onsself op nuwe maniere te gee was pret maar ook uitdagend.

Carla het Christiaan se voetmasseing gewen. Dit was regtig nie vir Christiaan besonders lekker om sy sussie se voete te masseer nie, maar dit het hulle vriendskap versterk. In die tyd wat hy haar voete masseer het, het hulle gelag en gesels en het hy geleer voete is nie so grillerig nie. Ek het Carla se skat gewen. Om haar uitgesproke liefde en waardering uit haar hart uit te hoor, het my hart baie diep geraak. Haar woorde is vir ewig in my hart inge-ets. Christiaan het toe ‘n voetmassering by sy pa gewen. Hoe kosbaar was dit nie om groot Gert se groot pappa-hande oor daardie kleiner seuntjie-voete te sien nie. Jesus wat voete was het ‘n nuwe prentjie van Sy deernis, vriendelikheid en persoonlike teenwoordigheid in ons lewens by ons wakker gemaak. Gert was die wenner van my skat. Ek moet sê, ek dink dit was ‘n behoorlike wen-wen. Ek hoop hy fokus op die ‘en meer’ in daardie sinnetjie en kies om op ‘n tweede wittebrood te gaan!

As gesin is ons opnuut herinner aan die noodsaaklikheid en die goeie daarvan om van jouself te gee. Om van jouself te gee maak plek vir nuwe dinge – daardie dinge wat die oog nog nie gesien het nie en die oor nie gehoor het nie. Dit was ‘n besonderse oefening wat ons daaraan herinner het dat om ‘n lewende offer – nie net vir mekaar te wees nie, maar vir God – verarm nie ons lewens nie. Inteendeel, dit verryk dit ver bo ons begrip.

Yolandè Coetzer is getroud met haar beste vriend en geliefde, Gert Coetzer. Die kroon op hulle huwelik is hulle twee kinders, Carla en Christiaan. Yolandè is in die proses om te kwalifiseer as ‘n positiewe sielkunde praktisyn wat haar in staat sal stel om saam met ander mense die boodskap van Fillipense 4:8 uit te leef – om ons oë gefokus te hou op alles wat goed is, mooi is en prysenswaardig is. Yolandè hou van musiek, dans en om nuwe dinge by verskillende mense op verskillende plekke te leer.

Yolandé Coetzer