GESINNE SE DISSPELSKAP

Om as gesinne wakker te leef

Tom Smith, Mede-stiger van Rhythm of Life

15 Augustus 2016

In hierdie week beoefen ons as gesinne die Muurprop ritme. Om dié ritme te ‘frame’ lees ons Jakob se verhaal wat ons in Genesis 28 kan opsoek. Hierdie teks is ’n lekker gedeelte om te gebruik vir Lection Divina of Ignatian lees (ons verduidelik hierdie op p.36-37 in die 7 Ritme boek).

Die spesifieke frase wat ons inskerp is Jakob se wakkerword moment … lees net hoe mooi word dit beskryf.

Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel. (Genesis 28:16–19)

Jakob se wakker skrik is nie net ’n fisiese ontwaking nie, maar ook ’n geestelike ontwaking. In ons samelewing vandag is die beweging van ‘mindfulness’ nogal gewild. Ons kan in hierdie teks sien hoe Jakob ‘mindful’ word vir God se Alomteenwoordigheid in sy lewe. In hierdie week wil ons jou en jou gesin daarom uitnooi om ’n eenvoudige oefening te doen. (Jy kan die oefening en tafelgesprek vir die week hier kry).

Elke keer as julle as gesin ’n toestel by die muurprop aanskakel of herlaai doen net ’n kort Jakob gebed … “Die Here is op hierdie plek en ek het dit nie besef nie.” Die avontuur van dissipelskap is om mekaar te herinner dat ons by God kan inskakel in ons elke dag lewe omdat God Beskikbaar is.

Die wonderwerk van Jakob se droom is dat die leer waarvan hy gedroom het ons help om te onthou dat dit Jesus is wat na ons toe kom met die leer. Dit is hoekom een van Jesus se name Immanuel is, “God by ons”. In die Bybel het ’n ander Jakobus ook oor wakker word geskryf wanneer hy skryf, “Nader tot God en Hy sal tot julle nader”.

Ons hoop jy en jou gesin kan in hierdie week lekker oefen met die muurprop ritme. Gebruik die eenvoudige sin “Waarlik die Here is in hierdie plek en ek was nie bewus daarvan nie” vir ’n wegspringplek om van die ander geestelike dissiplines soos gebed, vas, meditasie, stilte, Bybel lees en feesviering te beoefen. Shalom vriende!

Tom is getroud met Lollie Smith en hulle leef die Jesus avontuur met hulle twee kinders Tayla en Liam. Tom help deur sy organisasie Rhythm of Life kerke, organisasies en individue om as dissipels in Suid Afrika te leef. Hy is mal oor stap en geniet dit om koffie saam met mense te drink. Tom Smith

Mede-stigter van Rhythm of Life, Rhythm of Life