In hierdie laaste kwartaal gaan ons as ‘n geloofsfamilie fokus op die Bergrede (Matteus 5-7). Elke week gaan ons aan spesifieke temas binne hierdie fantastiese gedeelte lees. Hier is bietjie agtergrond wat kan help. Matteus skryf vir ‘n geloofsgemeenskap wat Joods was, daarom gebruik hy baie Joodse elemente in sy boek (hy praat bv nie van die koninkryk van God nie, maar van die koninkryk van die hemel omdat Jode nie die naam van God direk gebruik het nie).
In die bergrede wys Matteus vir ons dat Jesus die nuwe Moses is. Net soos Moses op die berg gegaan het om die tien gebooie te ontvang, gee Jesus nou instruksies oor hoe ‘n lewe lyk wat in ritme met God geleef kan word. Net soos die Jode in die Ou Testament wat die Pentateug gelees het (5 boeke) – is die boek van Matteus ook ingedeel in 5 hoof preke.
– Matteus 5-7 die bergrede
– Matteus 10 die sending
– Matteus 13 die koninkryk
– Matteus 18 die gemeenskap van gelowiges
– Matteus 23-25 die einde en wat om te verwag
Matteus help ons verstaan dat Jesus se nuwe ritmes ons van binne wil verander sodat ons nie net die uiterlike dade van Christene uitleef nie, maar dat ons van binne meer soos Jesus word. Hierdie is die uitnodiging om vernuwe te word sodat ons uit hierdie nuutheid anders leef. Die bergrede is daarom ‘n uitnodiging om te leer om anders te leef. Dit is Jesus se Uitnodigings om die wêreld te verander (en dit begin by ons)!!!
“